Is jy toegegooi onder berge papier en hope gemorspos in jou huis? Hier is ses maniere om die papieroorlog te beeïndig:
1. Pos die gedrukte media
Sprei jou digitale vlerke. Spaar die posdiens al die moeite en laat rekenings en ander pos per e-pos na jou gestuur word. En moenie drukstukke daarvan maak nie; dis duur en papiermors. Laai dit af en bêre dit in maandelikse onderafdelings in ’n “fakture-en-state”- lêer. Wanneer dit tyd is om belastingopgawes in te dien kan jy dit bloot op ’n geheuestafie plaas en vir jou boekhouer gee.
2. Hou net knipsels
Tensy jy elke dag vensters skoonmaak (koerantpapier bly steeds ’n gunsteling) is daar regtig geen rede om koerante op te gaar nie – bêre knipsels en hersirkuleer die res.
3. Sit dit in ’n sak
Hou ’n papiersak in jou kombuis of kantoor vir weggooipapier, gemorspos en koeverte en gesnipperde papier. Wanneer jy goed hersirkuleer, kan jy sommer die hele sak net so ingooi.
4. Sorteer in styl
Is jy geneig om hopies te vergaar waarmee jy “later” sal afreken? Indien wel, moet jy ’n stelsel in werking stel. Plaas in- en uitmandjies op ’n opsigtelike plek of skaf ’n konsertinalêer vir betaalde en onbetaalde rekenings aan – jy kán papierwerk baasraak.
5. Versnipper dit
Werk jy van die huis af? Dan is ’n versnipperaar jou beste bondgenoot. Sorg dat die snippermasjien naby jou lessenaar staan sodat jy doeltreffend en vinnig met persoonlike dokumente kan wegdoen.
6. Oefen ’n keuse uit
Verminder al die gemorspos (en verkoopspraatjies) en sluit by die National Opt Out Register (www. nationaloptout.co.za) aan.
Bron: www.goodhousekeeping.co.za
Foto: Google Images