Navorsing toon dat te veel digitale aktiwiteit en te min menslike interaksie simptome van angs en depressie kan veroorsaak. Tekens dat jy te veel tyd daaraan bestee, is wanneer jy gedurig jou foon dophou vir statusbywerkings en in goed (of mense) vasloop terwyl jy na jou skerm kyk. Begin om werklik in plaas van virtueel te leef. Slimfoonverslawing is dus vandag ‘n alledaagse verskynsel. So as jy 24/7 met jou foon besig is, is dit dalk tyd vir ’n digitale detoks. Hier is 6 maniere om jou slimfoonverslawing te verbreek:
1. KRY JOU PRIORITEITE REG
As vandag jou laaste dag was – ja, ons is so ernstig – sou jy liewer op Instagram of Twitter tyd verwyl of dit aam met jou geliefdes deurbring? Dink daaraan as jy volgende keer vriende op Facebook met hul verjaardag gelukwens. Gaan na hulle toe en wens hulle persoonlik geluk, of bel hulle ten minste!
2. KRY ’N WEKKER
Om jou foon as alarm te gebruik kan jou ’n rustelose nag besorg. Wanneer jy na die verligte skerm kyk, veroorsaak dit dat jou liggaam minder melatonien – die hormoon wat jou help om beter te slaap – vrystel. Laat die foon in ’n ander vertrek laai en koop ’n wekker.
3. STEL FOONVRYE GEBIEDE IN
Hier is iets waarby die hele gesin kan baat vind: Probeer om die woonvertrek, kombuis en gesinsmotor tegno-vrye gebiede te maak. Sit ’n bak of skinkbord neer waarin almal hul fone kan los of stel bloot jul fone op stilmodus.
4. SKAKEL KENNISGEWINGS AF
’n Voortdurende pieng- of kwettergeluid of ’n klein flitsende liggie verswak ons vermoë om op een ding op ’n slag te fokus. Om produktiewer te wees, skakel alarmseine vir apps, e-posse en boodskappe af totdat jy klaar gewerk het.
5. LEEF VIR DIE OOMBLIK
“Wag, ek wil eers ’n foto neem!” Klink dit bekend? Pleks van jou foon te gryp om enige iets van ’n fynproewer-ete tot jou dogter se eerste treë af te neem, neem eerder ’n foto in jou kop en gebruik jou sintuie om ’n 360-grade-herinnering te skep. Dit beteken veel meer.
6. PROBEER ’N DETOKS-UUR
Moenie jouself bluf deur te dink jy neem ’n ruskans wanneer jy deur jou Facebook-vriende se statusbywerkings blaai nie. Dit kan jou nog moeër laat voel as tevore. Gaan stap, blaai deur ’n tydskrif of ontspan net – verbied alle fone! Jy sal verfris en herlaai voel, en die wêreld sal tog nie vergaan as jy vir ’n uur nie e-pos gelees het nie.
Bron: www.goodhousekeeping.co.za
Foto: Google Images