Die Wet op Verbruikersbeskerming stippel jou regte as koper duidelik uit. Maar onthou, jy het ook sekere verantwoordelikhede.
1. Gaan pryse na
As die prys op die artikel self nie dieselfde is as die prys wat jy by die kasregister moet betaal nie, word die verskaffer gebind deur die laagste prys wat vertoon word, tensy dit ’n ooglopende fout is of daarmee gepeuter is. Dis verbruikers se verantwoordelikheid om eers by ’n rakpakker seker te maak indien hulle onseker oor die prys is en om die koopstrokie na te gaan om seker te maak hulle betaal nie te veel nie. Dis jou reg om vir die laer prys te vra.
2. Hou ’n oog op jou kontrakte
Dis maklik om te vergeet om jou veiligheidsdienste of selfoonkontrak te hernu, maar dis belangrik om alle korrespondensie te lees wat van ’n verskaffer gestuur is en betyds kennis te gee as jy nie wil hê die kontrak moet voortgaan nie. Verskaffers moet jou in kennis stel dat ’n vastetermynooreenkoms tot ’n einde kom en op ’n maand-tot-maand-grondslag met of sonder nuwe bepalings sal voortgaan. Maak seker jy word nie ekstra gevra vir dienste of byvoegings wat jy nie regtig nodig het nie.
3. Oppas vir grysprodukte
Jy is dalk gewillig om minder te betaal vir opgeknapte of “grysprodukte” (wat ingevoer is sonder die magtiging van die owerheid of die vervaardiger), maar dan moet jy die verhoogde risiko aanvaar dat daar foute kan wees en daar daar nie ’n vervaardigerswaarborg is wat dit dek nie.
4. Gaan die verkooprekord of besonderhede op die betaalpuntstrokie na
Luidens die wet op Verbruikersbeskerming moet verskaffers ’n verkooprekord of betaalpuntstrokie gee wat ’n omvattende lys besonderhede bevat. Gaan die korrektheid van dié besonderhede na en bêre dit op ’n veilige plek. Die verkooprekord is jou kopie van die ooreenkoms en aankoopbewys. Jy sal dit ook nodig hê as jy goedere wil terugneem, ’n terugbetaling wil kry of vra dat foutiewe goedere herstel word.
5. Vra identifisering
Alle werknemers wat aflewering, herstel of installasie doen, moet ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming ’n naamplaatjie dra of identifikasie verskaf. Dring daarop aan dat mense wat bel of na jou huis toe kom jou hul amptelike identifikasiekaart wys. Maak ook ’n aantekening van die persoon se naam vir rekordhoudingsdoeleindes en vir indien jy ’n klagte wil indien of ’n kompliment wil gee.
BRON: www.goodhousekeeping.co.za
FOTO: Google Images
The post 5 dinge wat jy moet weet wanneer jy inkopies doen appeared first on Mini Kuier.