Volg hierdie ses stappe met net die regte grimeerkleure en ’n bietjie verbloemer en lyk weer binne vyf minute of jy agt uur lank geslaap het.
Stap 1: Begin met verbloemer. Een met ’n geel ondertoon sal donker kringe verdoesel, ongeag jou gelaatskleur. Tik dit onder jou oë en op rooi dele soos die buitehoeke van jou neus en mond aan. Druk jou ringvinger op die kolletjies en maak sirkelbewegings om dit in te skakeer. As jy onderlaag ook dra, wend dit volgende aan.
Stap 2: Laat jou ooglede ligter lyk Wend ’n oogskadubasis een skakering ligter as jou vel oor jou hele ooglid tot teen jou wenkbroue aan om aartjies en rooiheid te verbloem. Ja, jy kan ook net verbloemer dra, maar ’n oogskadubasis bly langer aan.
Stap 3: Wend glimmende oogskadu aan Kies ’n neutrale kleur soos sjampanje vir ’n ligte of olyfkleur vel en goud vir ’n donkerder vel. ’n Tikkie glinster is belangrik – mat oogskadu’s kan jou ooglede swaar laat lyk. Wend ook ’n bietjie met jou pinkie in die binnehoeke van jou oë aan om dit oper te laat lyk.
Stap 4: Wend maskara aan jou boonste én onderste wimpers aan Dít sal jou oë wawyd oop laat lyk en boonop enige pofferigheid onder jou oë minder opmerklik maak. Vir jou onderste wimpers, hou die borseltjie vertikaal en borsel elke wimper liggies.
Stap 5: Onthou die blosser! ’n Sagte perskepienk blosser sal enige gelaat laat gloei. Kies een wat nie te veel glimmer nie, want glinsterende wange lyk glad nie natuurlik nie. Wend blosser in sirkelbewegings op die appels van jou wange aan en vee dan die kwas langs jou wangbene op.
Stap 6: Rond dit met lipglans af ’n Skakering soortgelyk aan jou blosser sal help om jou lippe vol en gesond te laat lyk.
Bron en foto: www.goodhousekeeping.co.za