Hoewel baie mense deesdae teëls verkies, bly matte steeds gewild, veral in die winter. Onthou dus hierdie wenke vir die aankoop, versorging en skoonmaak van matte.
Kies die regte mat:
Kies die mat voordat jy besluit hoe die res van die kamer moet lyk – maar installeer dit laaste.
Betaal soveel as wat jy kan bekostig, veral vir areas wat baie verkeer dra soos die ingangsportaal, trappe en leefkamer.
Om te kyk hoe duursaam die mat is, druk met jou hand daarop en monitor hoe lank dit neem om weer terug te keer na die oorspronklike vorm – hoe vinniger, hoe beter. Die duursaamste matte is dié met ’n kort, dik pool.
Om jou nuwe mat se leeftyd te verleng, belê in ’n nuwe onderlegsel en kies die beste gehalte wat jy kan bekostig.
Laat jou mat professioneel lê.
Sorg só dat jou matte en tapyte langer mooi bly:
Stofsuig gereeld om stof en vuiligheid te verwyder wat die vesels kan beskadig, en om die pool in ’n goeie toestand te hou.
Maak matte een maal per jaar goed skoon met behulp van ’n elektriese matskoonmaker of laat hulle professioneel skoonmaak.
Gee dadelik aandag aan vlekke as jy iets op die mat gemors het. Gebruik die skuim van die matsjampoe om te keer dat jy dit oornat maak, en spoel goed af om enige oorblyfsels te verwyder. Enige sjampoe-oorblyfsels sal net nóg vuiligheid aantrek.
Koop spesiale matjies om jou matte teen rolwieletjies en swaar meubels te beskerm. Indien swaar meubels reeds duikies in jou matte gemaak het, plaas ’n ysblokkie op die duik, laat dit smelt, en borsel dan die pool weer regop met ’n sagte borsel.
Bron en foto: www.goodhousekeeping.co.za