Dis weer daardie tyd van die jaar wanneer jou stoof en oond oortyd gaan werk, omdat ’n warm bord kos die ding is waarna almal smag.
Wanneer almal klaar geëet het en jy die vuil oond moet skoonmaak, is dit egter nie ’n lekker saak nie.
Dalk kan die volgende wenk jou help om die ekstra moeite uit oondskoonmaak te neem.
Wat jy benodig:
- Koeksoda
- Water
- Rubber handskoene
- Klam vadoek
- Plastiek of silikoon spatula
- Spuitbottel
- Wit asyn
Instruksies
1. Haal die oondrakke uit en sit eenkant.
2. Maak ’n pasta met die koeksoda deur ’n halwe koppie koeksoda met drie eetlepels water te meng. Die pasta moet smeerbaar wees.
3. Smeer nou hierdie koeksodapasta aan die binnekant van die oond, maar bly weg van die hitte-elemente. Gebruik handskoene wanneer jy die smeerwerk doen, want dit kan nogal vuil raak. Die koeksoda sal bruinerig raak wanneer jy dit insmeer – dis reg so.
4. Laat die koeksodapasta nou oornag aanbly of vir ten minste 12 ure.
5. Wanneer hierdie tyd verby is, vee die oond uit met ’n klam vadoek. Gebruik die spatula om van die pasta of vullis af te skrop indien nodig, veral op plekke waar jy nie so maklik met jou hande kan bykom nie.
6. Volg dit nou op deur ’n bietjie asyn met die spuitbottel te spuit, veral op daardie areas waar die koeksodapasta-oorblyfsels nog sit.
7. Vee die binnekant van jou oond nóg ’n keer af en hierna kan jy jou oondrakke terugsit.
Jou oond behoort nou weer mooi skoon te wees.
Bron: www.thekitchn.com